top of page

Lus Makertjies

imageedit_150_4609352134.jpg

FLENTERTJIES- BROEDERLIKE WEDDENSKAP


Nee kyk ʼn grap is ʼn grap, maar vir oom Gys is dit nou lankal nie meer ʼn grap nie. Die kinders van Gawie is darem iets uit die bose! My hel dis mos ʼn begrafnis nie ʼn gejol nie! Oom Gys staan daar met sy kruisbande wat weerskante van sy boepie oor sy skouers gaan.

Sy ou hoed wat al gevlek is van die sweet pas nou regtig nie by daai kerk klere van hom nie. ʼn Frons ontsier sy rooi gesig terwyl hy die kinders van Gawie aangluur. Waar in die wêreld het jy gesien jy gooi ʼn spitbraai vir ʼn begrafnis! Dan het die meisiekinders so ewe hul hoede en die seuns hul horlosies in die graf saam ou Gawie gaan staan en begrawe! Ou San kom staan langs Gys. ʼn Ondeunde laggie op haar gesig. “Vir wat grinnik jy so ou San?” blaf hy na haar kant toe.

Sy staan twee koppe laer af as groot Gys. Sy kyk op na hom toe en dit voel of haar nek in spasma sal gaan as sy te lank so sal staan. “Vir jou Gys.” Hy gee ʼn snork. “Vir wat nogal?” San gee ʼn tiener giggel en met die weg stap knyp sy Gys se boud. “Sie jy vroumens!” Met die staan Johan die oudste van oorlede Gawie op en slaan met sy mes teen sy glas, so wragtig of hulle op ʼn troue is! “Mense mense familie en vriende.

Sal ons asseblief vir oom Gys aan die woord laat staan om heildronk op my pa te kom doen asseblief.” Die mense staan almal nader met ʼn glasie. Sal die ondeund van ʼn kind nou wragtig dit aan my doen! Oom Gys vat die glas wat ou San na hom toe aan gee. Hy maak sy keel skoon en die frons wil net nie wyk nie. Nou watse verdomde padda sit nou in my keel? Ek gaan jou kry ou Gawie jy sal sien. Jy dink jy is veilig daar waar jy is, maar nee wag ek kom broer, ek kom. “Soos julle almal weet is ek heeltemal teen die gedoente en dit steek my dwars in die krop.

Maar Gawie se laaste wens is seker sy laaste wens. Ek en die res van die familie sê baie dankie aan ieder en elk wat vandag hier teenwoordig is. Ons sê ook dankie dat Gawie deel van ons lewe was.” Gys bly stil en maak sy keel skoon.”Wel vriende daar kom tye wat mens moet groet of jy nou wil of nie. Gawie sal ʼn gat in ons lewens los wat ons sukkel om gevul te kry. Sy lag en sy vrolikheid sal ons mis, maar definitief nie sy verdomde getergery nie!” Die groep mense lag. “Hoor,hoor!” Gys probeer ʼn traan ongemerk afvee. “’n Bokjol vir sy begrafnis wou hy gehad het en ek het mos geen sê gehad nie. Ongelukkig moet ek jul vandag vertel hoekom daar een is en Gawie lekker vir my sit en lag.”

Almal word stil, maar hier en daar lag mense. Ja van hulle weet en ander wonder wat gaan aan. Gys maak sy keel weer skoon. “Soos julle weet is ek ʼn getoë oujongkêrel.”” Gys vat ʼn sluk van sy drankie en verstik amper. Dit wil maar net nie verby die knop in sy keel nie. “Julle het al gehoor van my en Gawie se weddenskap en die wat nie weet daarvan nie verbaas my, want die blikskottel van ʼn Gawie het mos met elke byeenkoms daaroor gespog en gesê hy gaan wen.”

Gys laat sak sy kop en vee ʼn traan nou sommer ooglopend af. Hy tel sy glas op en hou dit in die lig. “Wel ou broer vandag kry jy jou wens . Laat julle jol tot die hane kraai en vier sy lewe want dis hoe hy dit wou gehad het!”

ʼn Hande geklap en gefluit begin onder die groep mense wat daar is om totsiens te sê aan oom Gawie. Johan staan nader en vat Gys om die skouers. “Nee my oom so maklik gaan jy nie wegkom nie. My pa sou wou gehad het jy moet die weddenskap na kom en jy het verloor. Hy is dood voor jy getroud is, nou moet jy maar doen wat jy al veertig jaar uit stel.”

Gys lyk ongemaklik terwyl Johan hom nader aan San stuur. Die mense begin lag en Gys lyk soos ʼn ongemaklike skoolseun. Hy gaan staan voor San wat hom aan kyk met ʼn oop mond. Hy sak af op een knieg. “San sal jy asseblief met my trou?” Trane loop oor San se oë. “Na  veertig jaar en ten koste van jou broer se dood skrik jy wakker Gys? Natuurlik sal ek!” ʼn Gejuig kom op en daar word ʼn verloof viering saam met ou Gawie se begrafnis gevier. ʼn Geleentheid wat die klomp in Witfontein nooit sal vergeet nie.

imageedit_1_4492816939.jpg

GEDAGTE WANDELINGS - HUWELIKS BELOFTE



vandag het ons besluit ons beloof trou

dit gaan ek jou nie gee

alles binne my is volslae vrou

van hier af stap ons tree vir tree


ek gee eerstens aan jou my hart

dit is my kosbaarste besitting

dit is in jou hande vir ʼn ekstra part

jou besluit om dit bloot te stel aan vernietiging


tweedens gee ek jou my verstand

dit is my lewensaar

vir jou om te stimuleer en te hou instand

dit is jou besluit hoe ek intellektueel moet vaar


derdens gee ek jou hierdie liggaam

dit is my toekoms en my verlede

vir jou om te gebruik sonder om jou te skaam

jou besluit hoe sy sal lyk in die toekoms en hede


daar is nie veel meer om te gee

hiermee vra ek dat ek jou sal kan vertrou

en jy vir my dieselfde sal gee

dat ons ʼn lewenspad gesamentlik kan bou

imageedit_3_2832654330.jpg

KONTREISTORIES - DIE STUKKENDE WINDPOMP

Elsie vee die sweet teen haar voorkop af. Dis warm en nie eers ʼn koelte boom om net bene te rek nie. Met haar hand keer sy die son af en kyk oor die dorre veld. “Daar is jy, my getroue ou vriend.” Sy trap die onderste draad vas en klim soos ʼn wafferse plaasnooi deur die draad. In die stap vat sy haar dik donker bruin hare bymekaar en maak ʼn poniestert agter haar kop. Skoene is sommer in die kar gelos. Haar oor groot T-hemp hang los oor haar driekwart broek. “Eina! Verduiwels,! Ja ou Els jy het ʼn regte stadsjapie geword.” Plat op haar sitvlak op die stowwerige grond, sit sy en trek die doring uit haar voet. Sonder dat sy besef loop die trane oor haar wange. In stilte loop sy verder oor die veld.  Met sagte hande vat sy aan die ou windpomp se geroeste pale. Water drup by die pyp uit voor haar voete. “Is dit veilig om vir jou te kom kuier my vriend? Ek het jou so nodig.” Sy begin soos van ouds op klim na die ou platform. Dis stukkend en geroes, die lemme op die meule is daar net een van oor. Elsie kyk met trane in haar oë hoe die tyd haar ou vriend verwaarloos en af gebreek het. “Ja my ou vriend....dis die lewe. Op ʼn tyd was jy goed genoeg om alles mooi te hou en almal se dors te les. Nou-nou kyk hoe lyk jy nou. Niemand wat jou bietjie aandag en liefde gee nie, want hulle het jou nie meer nodig nie.” Trane rol oor haar wange. Sy vee kwaad met haar hand van die een wang af en toe die ander hand op die ander wang. Sy gee ʼn diep snuif terwyl ʼn snik deur haar bors skeur. Elsie sak af en sit op die laaste plekkie wat nog heel is, met haar voete wat afhang. Haar hart breek oop en laat al haar pyn vry. Sy snik soos ʼn baba terwyl sy haar self styf vashou, met haar arms om haar bolyf gevou. “Hoekom is die lewe so ou Pompie? Ons was tog goed genoeg op ʼn tyd? Kyk jy het nog soveel water daar onder dat jy tog maar drupsgewys uit spoeg. In die hoop dat iemand dit sal sien en besef hul het jou nog nodig. Hoe baie is ek en jy nie dieselfde nie?” Die windpomp gee ʼn kreun onder haar vir ʼn antwoord. Die wind gee ʼn ruk aan haar oor groot T-hemp. Haar wange is styf en droog. Elsie se oë is rooi en opgehewe. ʼn Vuil streep is oor haar voorkop. Stadig staan sy op soos ʼn vrou wat baie moeg is en voel of sy baie jare ouer is as wat sy is. “Ek belowe jou Pompie. Ek is terug op die plaas. Ek sal jou tot jou vorige glorie bring en vir jou ʼn groot dam bou, waarin jy al jou liefde in kan stort. Jy is dalk gebreek maar jy is nog nie tot niet of nutteloos nie. Ons gaan weer baie geheime deel soos jare terug.” Sy laat gly haar hand stadig oor die een lem wat skeef hang. Dit stop op letters wat uit gekrap is. ʼn Skewe siniese glimlag ontsier haar pragtige gesig. Haar kop sak en stadig begin sy met haar aftog.  Onder gaan staan sy en kyk op. “Pompie as hy besluit om te kom, sê.....sê vir hom ek was hier. Ek het gewag.”

Ryno gooi die bale van die sleepwa af. Wanneer gaan die droogte opklaar? Die diere gaan dit nie langer kan hanteer nie. Hy rek sy lenige lyf na sy volle lengte. Hy haal sy keps af om die sweet af te vee. So staan hy op die wa en tuur die vertes in. Hy kan homself nie help nie en sy oë soek die ou windpomp op Hermansdrift, sy buurplaas. Waar is jy Els? ʼn Sug van groot verlange kom uit sy longe. ʼn Bitter trek verskyn op sy gesig. Nee die plaas lewe was mos nie goed genoeg nie. Stad toe wou jy gaan.  Hy spring vies van die wa af. Is jy nou weer vertraag Ryno? Jy het ʼn eed geneem om nie weer aan haar te dink nie. Dink jy nou wragtig sy sal terug kom? Nee, nee jy gaan ook nie jou tyd mors soos elke ander jaar om te gaan kyk of sy daar is nie! Tyd om vorentoe te gaan en die verlede te los. Sy het aan gegaan met hare, hoekom nie jy ook nie. Hy klim op die trekker en sonder om terug te kyk ry hy terug skuur toe. Dis amper skemer wanneer hy opdaag by die huis. “Ryno met watse frons loop jy nou weer rond?” Sophie klap haar tong vererg. Al antwoord wat sy kry is ʼn gegrom. “Toe weg is jy gaan stort ek maak koffie.” Sy vee haar hande af aan haar voorskoot terwyl sy haar kop skud. ‘Was die arme kind alweer by die windpomp?’ Sy gee ʼn onvroulike snork terwyl sy die ketel aansit.  Later die aand staan Ryno op die voorstoep met ʼn glasie port. Soos vele ander aande die tyd van die jaar staar hy die donkerte in. Sal hy ooit die dag daar by die windpomp vergeet? Haar groot amper swart oë wat met trane na hom gekyk het? “Jammer Ryno ek wil jou nie seer maak nie, maar ek moet myself eers gaan vind. Ek is dit aan myself verskuldig” Sy het haar hand op Ryno se wang gesit en haar lippe vlinder sag op sy lippe gesit. “Ek sal terug kom, ek belowe. Ek sal jou hier kom kry op ons plek hier by die windpomp met al ons geheime.” Ryno het haar aangekyk met ongeloof en seer. “Onthou die datum Ryno, ek kry jou op die selfde datum weer hier. Gee my net die kans asseblief?”  Sy het saam hom hul voorletters op ou pompie se lemme uit gekerf en saam het hul belowe hul kry mekaar weer hier. Dit was nege jaar gelede.  Twee arms gly van agter om sy lyf. Sy hand vat die hande saam voor op sy maag. Trien se kop lê teen sy rug. Hy gee ʼn diep sug. Vanaand is die aand dat hy Trien vra om haar hand, tyd om die verlede agter hom te sit. Hy draai om, om haar in sy arms te vat. Liefde en bewondering straal uit haar gesig op na hom toe. Hoe kan hy ooit haar liefde beantwoord? Dit laat hom in twyfel of hy haar moet vra. Hy trek haar in sy arms en rus sy ken op haar kop. ʼn Skuld gevoel oorweldig hom. Môre, môre belowe hy homself, sal hy haar vra. Net nie vandag nie.

Pompie staan en kraak en kla. Ryno hou die druppels dop wat by die pyp uit drup. “Ja ou pompie. Jammer ek was nie gister hier nie jong, maar soos jy weet raak Trien nou ernstig en ongeduldig. Ek kon net nie kom nie, jy verstaan mos?” Ryno gaan sit op sy hurke en breek van die dooie gras ʼn stukkie af. ʼn Frons op sy voorkop. “Ons sal plan moet maak en jou weer reg maak jong. Jy kan nie so aangaan nie. Die verlede is verby en ons moet vorentoe, nè ou tjom?” Pompie gee ʼn kreun as antwoord. Ryno grinnik. “Yip ek is bly jy stem saam.” Die frons verskyn weer op Ryno se gesig toe hy ʼn klein voetspoortjie sien in die grond by Pompie ou stukkende leer. ʼn Onverklaarbare blydskap kom by hom op en hy kyk rond. So gou as wat die blydskap gekom het so vinnig is die verskriklike pyn op sy hart. Sy keel trek toe. Nee, nee jy doen dit nie aan jouself nie Ryno! Dink aan Trien wat geduldig vir jou wag. Hy kyk op na Pompie se lem wat wil opgee om daar bo te bly. “Pompie?”  Dis ʼn moedelose seer roep na die windpomp. Die lem breek en val langs Ryno. Sy tande kners op mekaar en sy vuis gaan oop en toe. Hy voel dood, dood van binne en buite. Hy stap kop onderstebo terug na sy bakkie toe.  “Ryno?” ʼn Sagte vraende stem kom na hom toe. Hy gaan staan. “Els?” Hulle arms hang langs hul sye. ʼn Paar ysblou oë en ʼn paar amper swart oë kyk met verlange en ongeloof na mekaar. Die jare val weg en hul is weer agt tien. Die waar en wanneer sal hul nooit weet nie, maar hul hou mekaar vas. Sonder om ʼn woord te sê. Trane loop oor hul gesigte en drup soos pompie se water.

Dis ʼn maand later. Pompie sing in die wind terwyl water in die dam in stroom. Twee mense sit op sy splinternuwe platform. Pompie die stukkende ou windpomp op Hermansdrift se maer jare is verby. ʼn Tweede kans vir Ryno en Elsie net soos vir hul ou vriend Pompie.

imageedit_137_7900685343.png

SIMFONIE VAN DIE SEE - BEMINDE

sagte sproei teen my wang

dit is hoe dit voel as ek jou vang

oorverdowend is jy op my oor

as ek jou aanslag aanhoor


gryp jy na my voete so sag

alles trek jy terug met brute krag

my emosie kan ek met jou vereenselwig

want niks wat jy wys is ongeldig


in jou diepste kamers steek jy geheime weg

daar waar alles is nog eg

na buite woed jou storms

in al hul oorbodige vorms


hoe groot en almagtig

tog so sag en kragtig

leer my jou geheim

sodat ek dit vir myself kan kleim


nooit sal jy neem sonder om terug te gee

die mooie diepe blou see

mag ek jou kamers betree

sonder dat jy my ooit terug sal gee

Books: Recent Books
bottom of page